Gesonde gewoontes vir 'n langer, gesonder lewe
Wil jy 'n lang, gesonde lewe lei? Goeie voeding, fisieke aktiwiteit en geestelike welstand speel almal 'n belangrike rol in hoe lank jy leef en hoe gesond jy is.
Om gesond te leef, behels die versorging van jou hele liggaam. Oefening, geestelike welstand en voeding is drie deurslaggewende elemente in die strewe na gesondheid en 'n lang lewe.
Dit is hoekom gereelde fisieke aktiwiteit jou help om in alle opsigte beter te voel. Oefening bied baie korttermyn- en langtermynvoordele. Jou geestelike welstand is net so belangrik soos jou fisieke gesondheid. Trouens, die twee is op sigself verbind en speel 'n deurslaggewende rol in algehele gesondheid en 'n lang lewe. Goeie geestelike welstand help jou om meer vervuld te voel, te leer en goed te werk, die spanning van die lewe te hanteer, te besef wat jou vermoëns is en tot jou gemeenskap en diegene rondom jou by te dra. 'n Gesonde dieet is 'n noodsaaklike deel van jou algemene gesondheid. Goeie voeding sal jou liggaam voed asook jou geestesgesondheid, kognitiewe funksie en immuunstelsel 'n hupstoot gee, jou energievlakke verbeter, jou help om jou optimale gewig te handhaaf en jou risiko vir chroniese gesondheidstoestande te verlaag.
Al drie hierdie faktore is dus verweef en het 'n invloed op mekaar. Ons kyk hier na die stappe wat jy kan neem en wat jy kan doen om na alle aspekte van jou gesondheid om te sien.
Feite:
Oefening kan jou help om gesond te bly
Oefening kan:
- Jou selfbeeld en eiewaarde verbeter
- Jou bui verbeter
- Spanning en angs verlig
- Die moontlikheid om depressief te raak en die simptome van depressie verminder
- Slaap verbeter
- Help om 'n gesonde gewig te handhaaf
- Die risiko vir hartsiektes, diabetes en die ontwikkeling van kanker verlaag
- Kognisie verbeter en die moontlikheid verminder om demensie te ontwikkel
Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel ten minste 150 minute se fisieke aktiwiteit teen 'n matige intensiteit aan per week (dit is net 30 minute per dag oor vyf dae) of 75 minute se fisieke aktiwiteit teen 'n strawwe intensiteit per week.
As jy die gewoonte van ten minste 5 000 treë drie keer per week vir twee jaar vol hou, kan jy tot drie jaar by jou lewensverwagting voeg. Dit is volgens The Vitality Habits Index-navorsing wat deur Vitality en die London School of Economics vrygestel is.
Enige soort oefeninge wat jy geniet, sal jou help om gesond te bly. Dit sluit hardloop, stap, dans, boks en aërobiese oefeninge in.
Wenke vir geestelike welstand wat jou kan help om gesond te bly
- Kry genoeg slaap van goeie gehalte
- Kry 'n betekenisvolle lewensdoel
- Bestuur jou spanningsvlakke
- Fokus op betekenisvolle verbindings
- Doen selfversorgingsaktiwiteite
- Skep 'n balans tussen jou werk en die res van jou lewe
- Spandeer tyd in die natuur
Die beoefening van aandagtigheidstegnieke (mindfullness) kan jou ook help om die vermoë te ontwikkel om kalm, bestendig en geestelik veerkragtig te bly wanneer jy onder spanning verkeer. Om aandagtig te wees, kan help om jou aandag weg te lei van lukrake en onnodige gedagtes wat jou kan dreineer. Aandagtigheidstegnieke sluit meditasie en asemhalingsoefeninge in.
As jy met jou geestelike welstand sukkel, moet jy met vrymoedigheid 'n sielkundige vir psigoterapie spreek. Dit is niks om oor skaam te wees nie.
Voed en floreer
Volg hierdie wenke om voedingsgesondheid en -welstand te verseker:
- Oorweeg vrugte, neute, groente, vis, olyfolie, laevetsuiwelprodukte en kos met baie anti-oksidante wanneer jy jou volgende maaltyd kies.
- Kies volgraankos soos bruinrys en volgraanbrood bo hul wit, meer verfynde eweknieë.
- Beperk jou inname van sout en suiker asook verwerkte en gemorskos aangesien dit tot gewigstoename, inflammasie en chroniese siektes bydra.
- Gee voorkeur aan maer proteïene soos vis, hoender sonder die vel, eiers en peulgewasse.
- Drink daagliks 1,5 liter water om gehidreer te bly. Drink dit slukkie vir slukkie deur die loop van die dag, nie alles op een slag nie.
- Hou jou ingewande gesond deur gegiste kosse, soos jogurt, kosse ryk aan ruvesel en kleurvolle vrugte en groente te eet.
Aksie:
Tree vandag op deur klein te begin en standhoudende en bestendige veranderinge te implementeer totdat daaglikse oefening, gesonde eetgewoontes en aandagtigheidspraktyke 'n alledaagse deel van jou lewe word. Maak goeie voeding, oefening en geestelike welstand 'n prioriteit om jou kanse op 'n lang, gesonde lewe te verbeter.